Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 29 DESEMBER 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

RADIOAMATEUR SLEUTELFIGUUR IN 'n SEEREDDINGSDRAMA AAN DIE SUID-WESKUS

OPROEP OM VOORDRAGTE VIR DIE JAARLIKSE AMSAT-RUIMTESIMPOSIUM

ASTRO-AMATEURS HERSTEL IRS-VERKOELINGSTELSEL IN 'n OUKERSAANDSE RUIMTEWANDELING

BESTE TYD VAN DIE JAAR VIR DIE MEES GUNSTIGE VOORTPLANTINGSMODUSSE OP BHF

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

RADIOAMATEUR SLEUTELFIGUUR IN 'n SEEREDDINGSDRAMA AAN DIE SUID-WESKUS

Trevor Brinch, ZS1TR, 'n lid van HAMNET, die noddkommunikasie-afdeling van die Suid-Afrikaanse Radioliga, was die hoofskakel tydens 'n seereddingsdrama aan die Suid-Westelike kus van Suid-Afrika op Sondag 22 Desember 2013.

Op 12:48 op 22 Desember 2013 het die hawe-owreheid van Struisbaai gerapporteer dat hulle 'n Mayday-roep van 'n kommersiële vissersboot, die Maverick, op 29 MHz gehoor het. hulle kon nie verdere kontak met die Maverick maak nie en was onbekend met sy ligging. Verdere inligting verkry deur met ander bote te praat wat ook die Maydayroep gehoor het, was dat die Maverick se brandstof opgeraak het en reeds vir omtrent vyf uur op die see rondgedryf het. Die Maverick het, het die Struisbaaihawe om 18:00 Saterdagoggend vir die visgronde verlaat het.

Twee uur nadat die soektog begin het, is onderbroke uitsendings van die Maverick op 29 MHz gehoor, maar kon nie ontsyfer word nie. Trevor Brinch het gehelp met sy amateurradiotoerusting en sy ondervinding in die ontvangs van swak radioseine. Hy het die ligging van die boot, wat intussen tot in die skeepsvaartroete gedryf het, vasgestel.

Die Maverick was deur die Vodacom Rescuer 7 gevind en daar is gevind dat een buiteboordenjin van die boot gestaak het en dat die brandstof uiteindelik opgeraak het. Rescue 30 het die boot op sleeptou geneem waar dit vier uur later veilig in Struisbaai vasgemeer het.

Sonder die hulp van SARL-HAMNET sou hierdie operasie tot in die nag geduur het, met MRCC en soekvliegtuie wat ook sou moes deelneem.

IS U ONDER 20 EN 'n GELISENSIEERDE RADIOAMATEUR?

Indien u 'n jong radioamateur onder 20 jaar oud is, word u uitgenooi om deel te neem aan die debat gedurende jeugweek wat van 10 tot 15 Februarie 2014 plaasvind. Die debat sal op Dinsdagaand 11 Februarie gehou word, beginnende om 19:30. Die onderwerp van bespreking sal wees: “Wat bied amateurradio aan jongmense?” Om as 'n paneelspreker in die debat oorweeg te word, stuur u gedagtes oor die onderwerp en kontakbesonderhede, insluitende u telefoonnommer, voor 21 Januarie 2014 aan youthweek2014@sarl.org.za. 'n Telefoniese voorligtingsessie sal 'n paar dae voor die gebeurtenis gehou word. Hier is 'n groot geleentheid om jou debatteervermoë te ontwikkel en om jou idees oor waarheen amateurradio op pad moet wees bekend te maak. Vir meer inligting aangaande Jeugweek 2014, besoek www.hamradio.org.za.

OPROEP OM VOORDRAGTE VIR DIE JAARLIKSE AMSAT-RUIMTESIMPOSIUM

SA AMSAT het aangekondig dat sy jaarlikse simposium oor ruimtekommunikasie op Saterdag 24 Mei in die Innovation Hub in Pretoria sal plaasvind. Voorstelle vir voordragte word nou ingewag. Stuur 'n kort oorsig van die beplande voordrag voor 15 Maart 2014 aan saamsat@intekom.co.za. Outeurs sal teen 31 Maart oor die aanvaarding, of nie, van hulle voordragte in kennis gestel word. die finale geskrewe voordrag moet teen 30 April ingedien wees en die Powerpoint-aanbieding teen 15 Mei. Sluit asb. ook 'n kort CV en 'n foto van uself in.

Registrasie vir die simposium sal op 1 Februarie open. Volg besonderhede op www.sarl.org.za.

NET INDIEN U NIE DIE LISENSIE-AANSOEK-INLIGTING NIE ONTVANG HET NIE

Radioamateurs wat 'n eenjaarlisensie hou word herinner om vorm B te voltooi en dit aan OKOSA te stuur. Dit geld ook vir herhalers, bakens en klubroepseine. In die heraansoek, doen aansoek om 'n vyfjaarlisensie, dit bespaar geld en die nodigheid om elke 'n aansoek in te dien. Volle besonderhede en vorm B, kan gevind word op www.sarl.org.za.

MEER TYD OM AAN DIE VIDEOKOMPETISIE DEEL TE NEEM

Die Suid Afrikaanse Amateurradio Ontwikkelingstrust nooi videograwe om deel te neem aan 'n kompetisie waar aantreklike pryse op die spel is. Wees skeppend met jou kamera, of selfs slimfoon, en skiet 'n kort video van 'n opwindende amateurradioaktiwiteit in Suid-Afrika. Jy kan die wenner wees van 'n 5 watt GG MFJ 40 radioboustel ter waarde van R1 300 of een van vele ander pryse.

Die videoformaat kan AVI, WMV of MPEG met 'n minimum resolusie van 320 X 240 wees. Die lengte van die video moet tussen 3 en 5 minute wees. Die onderwerp kan enige iets wees wat die vreugde en opwinding van amateurradio weergee.

Inskrywings moet per Kompakte Skyf (KS) of Digitale Videoskyf (DVS) gedoen word en nie per e-pos nie. Stuur jou video aan: Amateurradio Videokompetisie, Posbus 90438, Garsfontein, 0042. Die sluitingsdatum was 31 Desember 2013 maar aangesien baie mense met vakansie is, sal inskrywings tot 31 Januarie 2014 aanvaar word. Meer inligting is beskikbaar by www.amateurradio.org.za.

ASTRO-AMATEURS HERSTEL IRS-VERKOELINGSTELSEL IN 'n OUKERSAANDSE RUIMTEWANDELING

'n Paar van die VSA se ruimtevaarder radioamateurs het finale herstelwerk gedoen aan 'n beskadigde verkoelingstelsel van die internasionale ruimtestasie en dit met 'n rare ruimtewandeling op Oukersaand, Dinsdag 24 Desember. Bill Pasternak, WA6ITF, van Amateur Radio Newsline vertel die storie:
Dit was die tweede ruimtewandeling binne vier dae vir VSA-ruimtevaarders Mike Hopkins, KF5LJG, en Rick Mastracchio, KC5ZTE en slegs die tweede Oukersaandruimtewandeling ooit.

NASA het verskeie ruimtewandelings beveel ten einde 'n kritiese verkoelingstelsel van die internasionale ruimtestasie te herstel. Dit was nadat alle nie-essensiële toerusting afgeskakel was toe die stelselfout op 11 Desember ontstaan het en baie wetenskaplike eksperimente gestaak is. Om die probleem op te los, het Mastracchio en Hopkins die foutiewe ammoniakpomp op Saterdag 21 Desember verwyder en 'n spaareenheid op 24 Desember gedurende 'n sewe en 'n halfuur uitstappie geïnstalleer.

Volgens NASA het die vervanging stadig gegaan as gevolg van 'n wederstrewige ammoniak vloeistofpyp wat bevrore vlokke van die uiters toksiese middel reguit na die astro-amateurs gespuit het. die ruimtevaarders het gerapporteer dat hulle omring was met groot stukke van die materiaal teen toerusting en hulle ruimtepakke gebots het. Die ammoniak moes van hulle ruimtepakke af verdamp voordat hulle na die binnekant van die IRS kon terugkeer ten einde besoedeling van van die tuig te verhoed.

Maar, aan die einde was dit mens wat oor masjien getriomfeer het. Met hierdie sukses sê NASA dat die verkoelingstelsel herstel sal wees en dat alle toerusting teen Sondag 29 Desember in werking sal wees.

BESTE TYD VAN DIE JAAR VIR DIE MEES GUNSTIGE VOORTPLANTINGSMODUSSE OP BHF

Die maande Desember en Januarie voorsien die mees gunstige modusse vir voortplanting op BHF. Hulle is: Tropoversterking, Tropogeuting, Sporadiese-E (enkelhop lokaal en multihop DX), Meteoorstrooiing, SSP DX en natuurlik die vier jaarlikse modusse: Vliegtuigstrooiing, Tropostrooiing, DX Mrt. AMA en Satelliete. Kyk ook na die buiteblad van die November/Desember-uitgawe van Radio ZS.

SSSP kan moontlik DX-werking na VK en ZL gedurende die somersonstilstand en moontlik maak en dalk ook op 50 MHz na PY. ZL-stasies is gretig om gedurende hierdie tydperk afsprake met ZS-stasies vir 50 MHz te reël. Bob Sutton, ZL1RS, sê GG-sleutel loop tans op 50,096 MHz tussen ons sonsopkoms en sonsondergang, dus 06:00 SAT to 10:00 SAT en hy stuur 1 kilowatt in 'n 11 element Yagi. ZL2DX en ZL3NW sluit by hom aan wat respektiewelik 200 Hz hoër en 200 Hz laer as Bob se frekwensie bedrywig is.

Dus, stuur asb. verslae in en maak ten volle gebruik van hierdie wonderlike BHF-tydperk wat oorvleuel met PEARS se nasionale BHF/UHF-kompetisie van 17 tot 19 Januarie 2014.

DXCC-LYSTE

Vandag is die 29ste en hierdie is 'n herhinnering dat die afsnudatum vir vir die 2013 Jaarlikse en Honneursrollyste is 31 Desember 2013. Dus, indien u van voorneme is om op die laaste minuut 'n voorlegging te doen, maak seker dat dit 'n posstempel van 31 Desember het; dieselfde geld vir LoTW op 31 Desember.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteitsvlak gematig is. Daar is 'n moontlikheid van M-klas fakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 85.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. Daar behoort ook 'n paar vroegaand 6 m openinge te wees.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

18 Januarie 2014 - SARL@Home.
21 Januarie 2014 - Laaste dag vir voornemende paneelsprekers om hul kontakbesonderhede te stuur aan youthweek2014@sarl.org.za.
31 Januarie 2014 - Laaste dag vir inskrywing van amateurvideo.
28 Februarie 2014 - Sluitingsdatum vir Leerling Opstelkompetisie.
15 Maart 2014 - Laaste dag vir instuur van voorstelle vir voorleggings vir die 2014 SA AMSAT Ruimtesimposium aan saamsat@intekom.co.za.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga met vertalings na Afrikaans, samestelling en redigering deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het en die beste wense van die nuusredakteurs vir 'n voorspoedige en bevredigende nuwe amateurradiojaar en hou vol om die goeie nuus in te stuur vir andere om in te deel. 73.

/EX

======================= Boodskap Eindig =======================

Om u e-pos-inskrywing in hierdie poslys te verwyder of te redigeer gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003